Die Plek
6. Die plek: SEWEFONTEIN in die MATSIKAMA
Die wildernisgebied Sewefontein is op die Gifberg in die Matsikama geleë. Die naaste dorpe is Van Rhynsdorp, Vredendal en Lutsville. Weens die geografiese geïsoleerdheid van die area is die ongereptheid, natuurskoon, kranse, klowe, strome, poele, watervalle en rotsskeure ‘n unieke en oorweldigende belewenis.
Snags, veral met donkermaan, is die nabyheid van die sterre en planete aanvoelbaar. Die naam Gifberg is afkomstig van ‘n boom wat hier groei waarvan die saad giftig is indien dit in die water kom en deur diere gevreet.
.jpg)
Die verskeidenheid fynbos, blomme, kleinwild, voëllewe en bobbejane word slegs in die paradys oortref. Daar is reeds meer as tagtig voëlspesies en 300 veldblom- en fynbosspesies geïdentifiseer. Daar is onbeperkte kilometers van voetslaan, fietsry en 4×4 paadjies wat om elke rots en kloof ‘n nuwe verrassing inhou. Dit is moontlik om elke aand in ‘n ander grot of spelonk te slaap waar die bewyse van Khoisan en Boesmanteenwoordigheid plek plek nog sigbaar is.
Die verskeidenheid van geografiese formasies, en onbelemmerde uitsigte verseker dat daar geen vervelige oomblik is nie. Blootstelling aan die ongeskonde natuurskoon, vars bries, helder lug, sonskyn en skoonste water bring mens onwillekeurig terug na daardie dinge wat werklik saakmaak. Hier word die wonder en opwinding van mens wees binne die wonder van die Skepping weer ‘n werklikheid.
Sewefontein word op ‘n eko-sensitiewe wyse bestuur sodat daar ‘n optimale balans tussen bewaring en menslike teenwoordigheid bestaan
.jpg)
Die aantal voete en wiele word so beperk dat dit min impak op die omgewing het
Ander aktiwiteite
Die volgende aktiwiteite kan deel wees van die pakket, die keuse is joune.
• Blomme en fynbos
• Boesmantekeninge
• Fotografie
• Nagtelike staptogte
• Ontspan en geniet die stilte
• Sterrekyk
• Voëlskyk
.jpg)
ANDER PLEKKE, nader aan die Kaap
Nader aan die Kaap kan ook op Sandbaai naby Hermanus, of op Stellenbosch gewerk word.
Bespreek hierdie moontlikheid met ons.
Buite-aktiwiteite by hierdie plekke:
• Bergfietsry
• Kajakroei – see, rivier, damme en mere
• Kennis van die see – strome, branders, getye
• Kreeftrek – in seisoen
• Leer ken die seestrome, branders en getye
• Scuba kursus – “open water one”
• Skipperslisensie – Katergorie C vir een seemyl
• Snorkel in die bamboeswoude van die Atlantiese-oseaan
• Staproetes van een uur tot ‘n paar nagte oorslaap
• Ander
Alle toerusting kan voorsien word
SANDBAAI BY HERMANUS
Hermanus is een van die wêreld se bekendste walviskykbestemmings waar die grotes tot teenaan die rotse kom om die walviskykers beter te kan bekyk. Daarbenewens is daar baie kilometers van wandelpaaie langs die see af, in die omringende berge en langs die strande af tot in Gansbaai. Buitengewoon mooi gholfbane, restaurante, fietsryroetes, kreefduik en talle ander buitengewone aktiwiteite wat op min plekke in die wêreld gevind word.
Dinge om te doen:
• Kajakroei
• Walviskyk vanaf die land of bote
• Hokduik saam met die Groot Wittes
• Speel gholf op die mooi bane in die omgewing
• Stap langs die baie kilometers wandelpaadjies langs die see af of in die berge
• Bergfietsry in die Hemel en Aardevallei
• Wynproe by een van baie kelders in die omgewing
• Inkopies in Hermanus
• Uiteet by van die restaurante in die hawe of in die dorp
AKKOMMODASIE
‘n Ruim, moderne en gerieflike strandhuis voor op die see met onbelemmerde 270° grade uitsig op die see en die berge. Hier word die sorge by aanskoue van die branders wat na die voorstoep aangespoel kom gou vergeet.
Foto’s